Verpligte leesstof tref tussen die oë

Maak jou gereed vir ’n riller oor wildstropers, wapensmokkelaars, moordenaars, korrupte politici, diplomate, wildboere, jagters, prostitute en ’n klomp uitvaagsels sonder wie die wêreld ’n beter plek sou wees, skryf Magda Swart in Beeld.

Was dit maar ’n storie deur een of ander slim skrywer, sou ’n mens wonder waar hy aan sy ryke verbeelding kom.

Maar nou is dié boeiende boek die eindresultaat van deeglike navorsing deur ’n voormalige joernalis wat hom oor jare al deur en deur bewys het met sy ondersoekende werk.

Elke hoofstuk is aangrypend.

Die gegewe kon maklik lei tot ’n emo­sio­nele aanslag, maar die skrywer slaag daarin om te boei deur net die koue feite te gee sonder om die leser te probeer opsweep oor dié emosiebelaaide onderwerp.

By die eerste oogopslag wonder jy wat daar nóg is wat oor renosterstropery gesê kan word.

Die koerante berig byna daagliks oor nog een, drie of sewe renosters wat iewers vir hul horings geskiet is. Jy sou dink jy weet nou omtrent alles.

Rademeyer gaan egter veel verder as dié meedoënlose koerantberigte. Hy gee konteks. Dit is in daardie konteks dat die krag van sy boek lê.

Hy neem die probleem terug na meer as 30 jaar gelede met die Bosoorlog.

Die rol van politici en veral (Suid-Afrikaanse) soldate in die skiet van renosters en olifante vir hul horings en tande tref jou tussen die oë.

Hoewel die hele waarheid oor lede van die Suid-Afrikaanse weermag se betrokkenheid by die smokkel van wapens, ivoor en renosterhorings seker nooit heeltemal oopgevlek sal word nie, is dit duidelik dat daar iewers in die oorlog in Angola geheime gebly het wat tot elke prys bewaar word.

En dit het niks met ’n ideologiese stryd teen die vyand te doen nie.

Soos Rademeyer die storie verder blootlê, kom die besef van hoe groot die probleem is.

Hier is groot geld ter sprake. En terwyl die sindikaatbase in veral Taiwan nie hul lewe hoef te waag nie en bereid is om te betaal, sal daar altyd aan die ander kant iemand wees wat sal help soek na nog ’n renoster om te stroop.

Tsjoemlong Lemtongthai, een van die groot generaals van ’n sindikaat in Viëtnam, is onlangs vir 40 jaar tronk toe gestuur en ’n mens sou hoop dit was ’n gevoelige slag vir die sindikaat.

Maar helaas. Alles dui daarop dat sy baas in die Ooste al klaar gereed is om ’n opvolger na Suid-Afrika te stuur …

Dis ’n boek wat verpligte leesstof behoort te wees vir elkeen wat al met verwondering na ’n renoster in die natuur gesit en kyk het.

Ook vir elkeen wat nog nie daardie voorreg gehad het nie.

’n Mens kan net hoop dat die bemarking in die buiteland so goed is dat elke buitelander ook die boek gaan lees.

 

Comments are closed.